PLASTIESE CHIRURGIE
 

"Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan; maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God" (1 Korintiërs 1:18).
Die kruis was nog altyd die simbool van die Christelike geloof. Enige argeoloog wat in oeroue ruïnes op 'n verroeste kruis afkom, sal die afleiding maak dat Christene ook dáár hulle merk gelaat het.
Wanneer jy op reis is en in die verte 'n gebou met 'n reuse kruis raaksien, sal jy weet dat dit 'n Christelike kerk is. Wanneer jy in 'n vreemde land toer en op 'n groep aanbidders afkom wat 'n vreemde taal praat en die priester 'n kruis op sy toga dra, sal jy onmiddellik weet dat hulle Christene is. Wanneer jy in Jerusalem toer, sal jy op Christene afkom wat letterlik Jesus se voetstappe op die Via Dolorosa volg.
Soos die tyd verbygegaan het, het Christene die kruis probeer versag deur dit met blomme en juwele te tooi. Hulle het ook "plastiese chirurgie" op Jesus toegepas en van Hom 'n namaak-sel van hul eie denke gemaak.
Die hippies het van Hom 'n Jesus Christ Superstar gemaak, Hom 'n motorfiets-entoesias gemaak en Hom in blou "jeans" voorgestel. Hulle - die blommekinders - was dan sy volgelinge. Die Marxiste het van Jesus 'n guerrilla-vegter gemaak wat die heersersklas omvergooi.
Maar Jesus is nie een van hierdie dinge nie. Hy het midde-in die wêreld van haat en agterdog en onreg en onderdrukking tussen die siekes en die lammes en die skelms en die vroue van twyfel-agtige beroep geleef. In Getsémané het Hy bloedsweet gesweet en gebid dat die kruis Hom tog gespaar mag bly.
Uiteindelik het Hy geen krag gehad om Sy eie kruis te dra nie sodat 'n ander dit namens Hom na die plek van teregstelling moes dra.
En dis uit hierdie moeras van angs en agterdog en vernedering dat Sy Evangelie van bevryding gebore is. Die Christelike Evangelie staan met sy voete diep in die modder van die menslike ellende en sonde en verkondig die verlossing daarvan.
"[Jesus was] verag en deur die mense verstoot, 'n man van lyding wat pyn geken het; iemand vir wie 'n mens jou gesig weg-draai" (Jes. 53:2). Tog het Hy met Sy lewe geboet sodat ons gered kan word. Jesus het vir ons kom wys dat God altyd daar is en dat Hy nie net geïsoleerde wonders doen nie, maar dat al Sy werke wonders is. Hy is daar vir almal wat Hom soek, ongeag hoe diep hulle geval het!
Hierdie wete gee vir ons hoop wanneer dit vir ons nag geword het.
Hoop is die onwankelbare sekerheid dat God se beloftes sal realiseer - gegrond nie op 'n ydele wens nie, maar op die werk-likheid van die lewe, sterwe en opstanding van Jesus Christus! - Tissa Balasuriya.
[Uit: Hoop het Vleuels, Leon Oosthuizen, Lux Verbi.BM, 2005].

Indeks     Index